2026-04-07

Mamma ek weet…

 

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer die juffrou jou die eerste keer inroep om vir jou te sê dat jou Gr1 kindjie sukkel met die basiese beginsels van lees en skryf.

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer jou Gr 3 kindjie na jou toe kom met ogies vol trane en sê: “Mamma, ek haat skool… ek wil nie meer leef nie.”

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer die juffrou jou inroep en sê:”Mevrou, ek dink jou kind hoort in ’n spesiale skool.” Maar diep binne weet jy… jou kind het net ’n bietjie meer tyd, ń bietjie meer geduld en aandag nodig.

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer daardie selfde klein seuntjie elke oggend 05:00 opstaan, sodat jy hom kan help om sy klas en huiswerkies te doen – and he is acing it!

Mamma, ek weet hoe dit voel om ’n braaivleisvuur te sit en te luister hoe ander mammas oor hul kinders se prestasies spog… en jy sit stil, en wens net jou liefie lyfie kind kom huis toe met ’n glimlag omdat skool vir hom lekker was.

Mamma, ek weet hoe dit voel om net die nodige te sê wanneer familie en vriende uitvra oor jou kind—want niemand verstaan regtig julle unieke pad nie. Die hartseer. Die moedeloosheid. Maar ook die ongelooflike trots… omdat jy weet hoe hard jou kind werk.

Mamma, ek weet hoe dit voel om saam met jou kind te leer vir elke eksamen—om die werk hardop te lees, want dis hoe hy verstaan. En dat elke leer sessie eers met n breakdown bring… omdat jou kind homself meet aan ander en voel hy is nie goed genoeg nie.

Mamma, ek weet hoe dit voel om jou kind moed in te praat, selfbeeld te bou… en tog te sien hoe jou kind begin twyfel—selfs in jou.

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer niks lyk of dit werk nie—nie raas nie, nie straf nie, nie ’n diagnose nie, nie hulp nie… heng, jy weet self nie wat nodig is nie….Maar jy weet net een ding en dit is dat jy jou kind moet HELP!

 

…En dan…

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer jou hart wil bars van trots as jou kind ’n toets slaag—al is dit net-net…. Of om daai high-five te gee wanneer hy bo gemiddeld goed doen in n toets.

Mamma, ek weet hoe dit voel wanneer jou knieë blou gebid is… en jy God smeek om jou kind te help. En dan Mamma… ek weet hoe dit voel wanneer God intree—en jy begin sien hoe dinge verander.

Mamma, ek weet hoe dit voel om elke nuwe kwartaal binne te gaan met hoop… dat hierdie kwartaal net ’n bietjie makliker en ’n bietjie ligter sal wees.

 

…En uit my hart wil ek vir jou sê:

“Mamma – I see you… because I am you.”

Moet nooit moed opgee nie—veg vir jou kind. Daar is niks fout met jou kind nie—jou kind pas dalk net nie in die wêreld se “boksies” nie.

Volg jou instinkte—dit is ’n geskenk van God.

Moet nooit huiwer om hulp te vra nie. En as een pad nie werk nie—kry ’n ander een wat wél vir julle werk.

Daar is altyd hoop. Ons leef in ’n tyd waar daar soveel meer opsies is—jy hoef nie dieselfde pad te loop as almal anders nie.

En die belangrikste…

MOET NOOIT OPHOU BID NIE!

God ken jou hart. Hy ken jou kind.

En Hy het ’n plan. Hy sal julle nooit los nie!

Hy het julle. 

Geskryf deur: Marilé Jacobs

(nie ǹ kenner nie, slegs ǹ mamma)